Die Puku Stigting vir Kinderliteratuur het die akute tekort aan interessante, bekoorlike en gepaste leesmateriaal vir kinders, veral in Afrikatale, geïdentifiseer as een van die groot faktore wat tot Suid-Afrika se onderwyskrisis bydra. Elinor Sisulu, Voorsitter van die Puku Stigting vir Kinderliteratuur, het by die bekenstelling van die eerste storiefees gesê: “Deur hierdie fees wil ons die werk van storievertellers, skrywers en kunstenaars vertoon en vier sodat kinders en hul ouers, onderwysers en versorgers sal weet wat in hul taal beskikbaar is.”
Ayanda Mjekula het die Puku Storiefees namens die Nasionale Kunstefees verwelkom: “Ons voel geëerd om deel van hierdie opwindende en baanbrekende inisiatief te wees. Ons was bekommerd omdat inheemse tale stief behandel word terwyl ons kinders sukkel om hulself in hul eie tale uit te druk. Ons het besluit dat ons nie meer toeskouers van die verwaarlosing van ’n baie belangrike linguistieke uitdaging wil wees nie en daarom ondersteun ons Puku. Ons hoop dat Puku se ideaal om, onder andere, dinamiese en interaktiewe skakels tussen produseerders, onderwysers en kinders te skep, waar sal word.”
Professor Sizwe Mabizela, die Adjunkvisekanselier van Rhodes Universiteit het gesê: “Rhodes Universiteit is toegewy aan die idee van veeltaligheid as deel van transformasie. In 2008 het die Universiteit die Pansat Veeltaligheidstoekenning gewen vir die pogings wat op die kampus aangewend is, meer spesifiek deur die werk van die Afdeling Afrikataalstudies. Dit sluit in die aanbied van Xhosa-beroepspesifieke kursusse vir Regte, Aptekerswese, Onderwys en Joernalistiek, asook oorsig oor die implementering van veeltaligheidsinisiatiewe onder die Rhodes Taalkomitee en Voorsitter van NRF SARCHI, wat deur professor Russell Kaschula aangevoer word. Daar word gehoop dat hierdie veeltaligheidsinisiatiewe na die breër onderwysmileu onder die beskerming van die Puku Fees gevoer sal kan word.
Die 2016 eregas was die legendariese musikus, digter, storieverteller en onderwyseres, Latozi Mpahleni, beter bekend as Madosini. Madosini word wyd erken as die bekendste lewende speler van isitolotolo, uhadi en umrhubhe-mondboog. Sy is werklik ʼn nasionale skat wat voorheen deur die Departement van Kuns en Kultuur as ʼn Lewende Legende erken is.
Feesdirekteur, Ziyanda Gysman, kon haar opgewondenheid oor Madosini se teenwoordigheid by die Fees skaars beteuel. “Langs ander ikoniese Oos-Kaapse skrywers en kunstenaars, soos dr. Sindiwe Magona en dr. John Kani, word Madosini internasionaal in haar veld geprys en het sy oral oor die wêreld opgetree, maar haar werk het nie behoorlike erkenning in die provinsie van haar geboorte gekry nie – veral nie onder die jeug nie. Net soos die Puku Storiefees die kinders van Grahamstad blootstelling gegee het aan Sindiwe Magona en John Kani, so sal ons Madosini na dieselfde gehore neem.”